Highlands Panorama News
HOME | PROFILE | STAFF | GALLERY | COMPANY ASSOCIATIONS | CONTACT
 

Aan die stuur Banner

Ons toets die Mahindra Pik Up S6 4x4 met Farmer Pack

 

MAHINDRA Lydenburg het onlangs vir ons die nuwe Mahindra Pik Up S6 4x4 enkelkajuit vir 'n naweek geleen om behoorlik te toets. Hierdie betrokke bakkie was toegerus met die "Farmer Pack", wat bestaan uit 'n nuwe voorbuffer met bosrooster en sleephaak, agterbuffer met sleephaak, volle raamwerk op die bak vir hoog laai en 'n snorkel vir die enjin.
Daar is 'n paar dinge wat dié bakkie uiters geskik vir die plaas maak. In die eerste plek is die laaibak op die oog af groter en dieper as dié van die meeste kompetisie in die klas. Ons kon 'n lang leer in die bak laai, wat op twee ander voertuie oor die agterklap gesteek het. Dit het 'n 1.2 ton dravermoeë, wat 'n hele drom vol plaasdiesel meer is as die gewone. Dit kan 2.5 ton (gerem) sleep. Dit beskik oor 4x4 met laestrek en het 'n ewenaarslot. Dit is hoog. Met die "Farmer Pack" is daar op al vier hoeke steunpunte vir 'n plaas (high lift) domkrag. Daar is vier hegpunte vir kabels en kettings om goed mee rond te sleep of vir herwinning. Daar is 'n voorste en agterste sleepstang. LED ligte is in die voorste buffer gemonteer. Die bakraam is stewig en geskik vir beeste, of ander lewende hawe, of om lusern hoog te laai. Al hierdie toerusting is stewig en netjies deur Bundu Gear vervaardig. Die snorkel sal jou toelaat om diep water aan te durf.
Die kragtige 2.2 liter mHawk turbodiesel maak 103 kW en 320 Nm se krag. Dit voel egter na baie meer.
Binne is daar heelwat geriefsitems vir die hardwerkende boer in die S6. Daar is lugversorging, elektriese ruite, sentrale sluit, 'n radio met USB en Aux, 'n 12V kragsok, kragstuur (op en af verstelbaar), verligte sleutelgat, kopstutte en "stop / start" beheer. Daar is 'n houer vir 'n donkerbril of jou beursie bokant die binnespieël. Sykantspieëls is lekker groot en verstel met die hand.
Veiligheidsitems sluit die gebruiklike dubbel lugsakke, ABS met EBD, veiligheidsgordel styftrekker, volg my ligte, ligte aan gonser en ander items soos sykantstawe in.
Ek het genoeg tyd oor twee dae gehad om die Mahindra in die dorp te toets op ons slegte paaie, op die oop pad en op 'n grondpad. Dit is 'n bul van 'n bakkie. Ek het nie die 4x4 vermoeë getoets nie, maar 4x4 laag is lekker stadig en dit voel of die Mahindra sal kan boomklim.
Maar 'n mens kan nie net boer met die bakkie nie. Jy moet een of ander tyd dorp toe kom en dan wil jy laat waai op die oop pad. In sesde rat loop die Mahindra 'n barshou en die enjin toer teen 'n lekker rustige 2 700 omwentelinge teen 120 en so 3 000 omwentelinge teen 140. Dit is hard geveer, soos mens kan verwag van 'n bakkie wat meer as 'n ton kan dra, maar dit is nie ongemaklik nie. Remme is goed en al die pedale en stuur is lekker lig. Ek hou besonder baie van die feit dat die enjinkap op gasstutte oopmaak en oop bly. Niks gesukkel met 'n paaltjie waarvoor jy die regte gat moet soek nie! O ja en die noodflikkerligte gaan self aan as jy die enjinkap oopmaak!
Wat is daar om te kritiseer? Wel, die Mahindra het nie die kortste draaisirkel nie en 'n U-draai is meestal 'n driepunt draai. Ek het nie gehou van die stop/start funksie nie. Ek hou nie daarvan as 'n voertuig se enjin vrek as jy by 'n stopstraat staan nie, alhoewel dit dadelik aanskakel as jy die koppelaar trap en hom in rat sit. Dié funksie kan gelukkig afskakel, maar as jy iewers stilgehou het en weer inklim, is dit outomaties weer aan. Iets om aan gewoond te raak.
Andersinds dink ek dit is 'n uitstekende, taai werkbakkie wat ook lekker ry op die oop pad. Die "Farmers Pack" is 'n moet. Dit gee jou al die toerusting wat jy op 'n plaas nodig gaan hê, tesame met 'n gerubberiseerde bak.
Vir 'n boer, is hierdie die antwoord.
Andre Coetzee

Latest Edition
Hoor Hierso
Outoppie se Kommentaar
Aan die stuur
Kry ons op Facebook
 
 
Highlands Panorama News | All Rights Reserved | 2011